Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 8 JANUARIE 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ........................................... (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

Hierdie oudio bulletin kan van die Liga se web tuiste by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag,

‘N OPROEP VIR MOSIES VIR DIE 2017 AJV EN NOMINASIES VIR DIE RAAD

RADIO AMATEUR EKSAMEN BESONDERHEDE VIR 2017

en

DIE PEARS NASIONALE BHF EN UHF KOMPETISIE

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

** In terme van Reël 11.3 van die Grondwet en Reëls van die Liga, word 'n oproep op lede gedoen om mosies vir bespreking tydens die 2017 Algemene Jaarvergadering voor te lê. Mosies moet duidelik en bondig wees, dit moet 'n motivering in sluit en vereis 'n voorsteller en 'n sekondant.

In terme van Reël 16.9 van die Grondwet en Reëls van die Liga, word 'n oproep op lede gemaak vir nominasies om te dien op die Raad van die Liga. Vyf van die huidige Raadslede sal aftree tydens die 2017 Algemene Jaarvergadering, hulle kan herkies word as hulle genomineer en gesekondeer word. Die name van die vyf uittredende Raadslede sal bekend gemaak word na die Raadsvergadering op 17 Januarie. Die vereistes is 'n nominasievorm met 10 sekondante wat almal lede van die Liga is of deur 'n Klub waarvan ten minste 10 lede ook lede van die Liga is dit onderteken.

Die sluitingsdatum vir nominasies en indiening van mosies is voor of op Dinsdag 31 Januarie 2017 en moet aan die Liga-sekretaris gestuur word by secretary@sarl.org.za of per faks na 086 552 8487. Vir meer inligting, verwys asseblief na die Liga se Grondwet en Reëls wat beskikbaar is op www.sarl.org.za.

** Lede en Klubs word genooi om nominasies in te dien vir die volgende Suid-Afrikaanse Radioliga toekennings. Stuur jou nominasies met 'n motivering aan die Liga-sekretaris by secretary@sarl.org.za voor of op Dinsdag 31 Januarie 2017.

Die toekennings is Lewenslange Erelidmaatskap; die Willie Wilson Goue Wapen; die Jack Twine toekenning; die Arthur Hemsley 2 meter Trofee; die Barney Joel Trofee; die Icom Uitmuntenheids toekenning; die Joseph White Plaak; die Bert Buckley Ses Meter trofee; die Radio ZS Vier Meter Wissel trofee; die SAATI toekenning en die Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntenheids-toekenning. Die relevante inligting oor elke toekenning kan gevind word in die SARL Kommunikasie e-pos gedateer 11 Desember 2016 wat aan alle lede gestuur is.

** Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Klubs gereedmaak om RAE kursusse aan te bied. Vanjaar sien 'n groot verandering in die dag van die eksamen. In die verlede was die eksamen altyd op Donderdagaande geskryf, maar vanjaar sal die RAE geskryf word op Saterdagoggende van 10:00 tot 13:00 Sentraal-Afrikaanse Tyd. Dit behoort dit makliker te maak vir die kandidate wat nie altyd die eksamen kan skryf as gevolg van werksvepligtinge nie. Die RAE datums vir 2017 is soos volg:

Eerste semester
21 Januarie 2017 - RAE registrasieproses open
15 April 2017 - RAE registrasie sluit
20 Mei 2017 - RAE eksamen (Saterdagoggend)

Tweede semester
14 Julie 2017 - RAE registrasieproses open
16 September 2017 - RAE registrasie sluit
21 Oktober 2017 - RAE eksamen (Saterdagoggend)

'n E-pos is gestuur na die huidige lys van Hoofopsieners van die onderskeie Klubs, hulle word versoek om al hulle besonderhede op te dateer en te her-registreer voor 20 Januarie. Let wel, die betrokke Klubs se kontakbesonderhede en die plek van die eksamen sentrum is uiters belangrik. Hierdie inligting is nodig voordat die RAE registrasieproses oopgemaak kan word. Die skakel na die registrasie bladsy is www.sarl.org.za/Web3/RAE/ExamCentreRegistration.aspx

Alle HF Assessors moet ook hul besonderhede op dateer deur weer te registreer by die volgende skakel - www.sarl.org.za/Web3/RAE/HFAssessorRegistration.aspx

Kandidate moet aanlyn registreer en Klubs word versoek om die RAE Registrasie inligtingsblad aan alle kandidate uit te deel. Dit kan afgelaai word by www.sarl.org.za/Web3/Documents/RAE_Registration_Information_Sheet.pdf

Moet asseblief nie huiwer om die SARL RAE Bestuurder te kontak op die volgende e-pos rae@sarl.org.za indien jy verdere inligting verlang. Al hierdie inligting is op Dinsdag 3 Januarie aan geafilieerde Klubs per e-pos gestuur.

** RAE Beurse vir onder 26 jaar oud studente. Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust bied twee beurse van R1 000 elk aan vir die Mei Radio Amateur Eksamen. Die Tony Reumerman beursprogram ken vier beurse jaarliks toe aan studente wat onder 26-jaar oud en van plan is om die Klas A eksamen te skryf. Twee beurse is beskikbaar vir die Mei eksamen en twee vir die Oktober-eksamen. Vir meer besonderhede en die aansoekvorm, besoek www.amateurradio.org.za.

** Sluit aan by die SDR gesprek. AMSAT SA sal die gereelde SDR gesprek op Woensdag 11 Januarie 2017 hervat. Die idee van die gesprek is om idees en ervarings oor Sagteware-gedefinieerde Radio te deel en die gesprek sal plaasvind deur middel van 'n Skype oproep wat on 20:30 begin. Om deel te neem, is dit noodsaaklik dat die deelnemer die nuutste weergawe van Skype gebruik. Om jou deelname te bespreek, stuur 'n e-pos aan admin@amsatsa.org.za met jou Skype naam en selfoon nommer teen 10 Januarie. Deon Coetzee, ZR1DE, hanteer die bespreking.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga. Het jy iemand oor amateurradio vandeesweek vertel?

** Die jaarlikse PEARS Nasionale BHF en UHF kompetisie vind plaas oor die naweek van 20 tot 22 Januarie 2017 en is oop vir alle gelisensieerde amateurs in die RSA en die buurstate. Die doel van 'n BHF en UHF kompetisie is om aktiwiteit te stimuleer op hierdie bande, die maak van baie lang afstand kontakte om nuwe rekords te vestig, die verbetering van BHF en UHF toerusting aan te moedig en om amateur radio te bevorder.

Dit is 'n 44-uur dubbele kompetisie vir analoog en digitale modusse, wat in 2 sessies verdeel is wat aktiwiteite sal versprei oor die wedstryd tydperk en veranderings van voortplanting te weerspieël. So, kyk uit vir Tropo of Meteor Strooi in die vroeë oggend of in die aand op 50 en 144 MHz, terwyl daar bedags vir Rover stasies uit gekyk kan word asook Vliegtuig strooi en moontlike Sporadiese-E. Dit is ook 'n wonderlike kamp tydperk met baie pret vir die veld-stasies. Amateurs word versoek om deel te neem in beide die kompetisies en sodoende die bande aan die lewe te hou.

Die eerste 22-uur sessie van die BHF en UHF kompetisie begin om 16:00 UTC op Vrydag 20 Januarie en sluit om 14:00 UTC op Saterdagmiddag 21 Januarie. Die tweede 22-uur sessie begin onmiddellik ná 14:00 UTC op Saterdag en eindig om 12:00 UTC op Sondag 22 Januarie 2017. Kry al die besonderhede in die 2017 Blue Book, beskikbaar by www.sarl.org.za of op bladsy 31 van die Januarie 2017-uitgawe van Radio ZS.

** Die Redakteur van Radio ZS versoek lede om hom by te staan in die toekenning van twee van die Radio ZS toekennings vir die 12 uitgawes van die 2016-reeks van die tydskrif. Die eerste is die Gary Immelman RA Erfenis Toekenning Wisseltrofee vir die beste artikel van 'n historiese aard wat 'n gebeurtenis wat meer as vyf jaar vantevore plaasgevind het beskryf of 'n interessante persoonlikheid wat 'n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van amateurradio in jare wat verby is. Die tweede is die JJ Pienaar-trofee vir die beste artikel gepubliseer in Radio ZS tydens 2016.

E-pos jou voorstelle oor wie waardige ontvangers sou wees aan radiozs@sarl.org.za teen Dinsdag 31 Januarie 2017.

** Verander jou skootrekenaar in 'n 24 MHz tot 1,7 GHz ontvanger. AMSAT SA hou 'n halwe-dag SDR Werkswinkel in samewerking met die Suid-Afrikaanse Radioliga by die NARS op 18 Februarie 2017. Dit is 'n praktiese werkswinkel waar deelnemers 'n BHF/UHF RTL dongle installeer en dit programeer om 'n BHF/UHF ontvanger te word sal 24 MHz tot 1,7 GHz dek. Anton Janovsky, ZR6AIC, en Cor Rademeyer, ZS6CR, sal die Werkswinkel aanbied. Die Werkswinkel fooi sluit die RTL dongle en 'n geheue-stokkie in met al die nodige sagteware asook ligte verversings. Registreer voor 11 Februarie 2017, al die besonderhede en registrasie vorm is beskikbaar op www.amsatsa.org.za. Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

** Die 2017 AMSAT SA Ruimte Konferensie sal gehou word op Saterdag 20 Mei 2017 in Pretoria. Dit is die eerste oproep vir referaat voorstelle. Die tema van die konferensie is "Verower die Ruimte as 'n opvoedkundige tydsverdryf." Voorstelle vir referate moet 'n kort opsomming van die voorgestelde referaat insluit. Die sluitingsdatum vir voorstelle is 31 Januarie 2017. Skrywers sal in kennis gestel word van aanvaarding van hul referaat teen 15 Februarie 2017. Meer besonderhede by www.amsatsa.org.za

** Daar was sterk sporadiese-e openinge op Nuwejaarsdag. Andrew Gray, ZS2G, in Port Elizabeth was die eerste om oor die sporadiese-E opening verslag te doen op 1 Januarie 2017 toe hy die ZS6TWB baken op 50.044 MHz gelykgolf vanaf Polokwane om 11:59 SAT hoor.

Mike Kellett, ZS1TAF, in Kaapstad het die ZS6TWB baken vir sowat 2 uur gehoor en dit was eers hoorbaar van omstreeks 12:30 SAT, terwyl die ZS6JON baken op 50.050 MHz gelykgolf vir byna 'n uur gehoor is. Gedurende hierdie tydperk het Mike vir Servaas, ZS6SER, op Louis Trichardt, Willem, ZS6WAB, in Polokwane en Kenneth, ZS6KN, in Onderstepoort, op 50.200 MHz ESB op S9 gewerk.

Pieter Jacobs, V51PJ, op Rosh Pinah berig dat hy die eerste keer 'n Es waarskuwing gehoor het toe die 11 m-band oopgemaak het. Hy het op 50.200 MHz geluister en gelykgolf, ’n stem en meteoriet pings gehoor met sy antenna in die rigting van Polokwane. Hy verander frekwensie na 50.280 MHz en ontvang 'n 57 MSK441 sein aaneenlopend vanaf Brad, ZS5BG, wat +13 dB op die skerm was. Hy verander na JT65a en kontak Brad in Pinetown, Hugo, ZS5HV, in Scottburgh en Lee, ZS5LEE, in Durban. Dit was interessant dat Pieter NNO gestraal het toe hy die eerste keer vir Brad gehoor, maar die Es wolk moes verskuif het toe hulle begin op JT65a want hulle antennas het na mekaar gekyk. Bernie, ZS4TX, in Bloemfontein kon nie die Es sein hoor nie, net meteoriet pings en het gedink dat die skip afstand tussen 1 200 en 1 600 km was op daardie tydstip.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie en bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van minder as 5 vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou vir die dagboek van gebeure:

11 Januarie - die SDR Gesprek
12 Januarie – die NARS open vir besigheid
20 Januarie - RAE Opsieners en Venues om te herregistreer
21 Januarie - Mei RAE registrasieproses open
20-22 Januarie - die PEARS Nasionale BHF/UHF Kompetisie
31 Januarie - Sluitingsdatum vir AJV mosies, nominasies vir die Raad, SARL-toekennings en Radio ZS toekennings; die sluitingsdatum vir voorstelle vir referate vir die AMSAT SA Konferensie
11 Februarie - sluitingsdatum vir die SDR Werkswinkel registrasie
18 Februarie - die SDR Werkswinkel by die NARS

Om hierdie bulletin mee af te sluit, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.

In terme van Reël 11.3 van die Grondwet en Reëls van die Liga, word 'n oproep op lede gedoen om mosies vir bespreking tydens die 2017 Algemene Jaarvergadering voor te lê. Mosies moet duidelik en bondig wees, dit moet 'n motivering in sluit en vereis 'n voorsteller en 'n sekondant.

In terme van Reël 16.9 van die Grondwet en Reëls van die Liga, word 'n oproep op lede gemaak vir nominasies om te dien op die Raad van die Liga. Vyf van die huidige Raadslede sal aftree tydens die 2017 Algemene Jaarvergadering, hulle kan herkies word as hulle genomineerde en gesekondeer word.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 760 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur .......................................................

73 en 88, dankie dat jy geluister het.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003